Gebede

Gebede Vir Die Dag

Bladsy: 123456

Ek bekommer my gedurig, en oor alles ...

Gaan die nuwe plantjies groei? Het ons damme genoeg

water?

Sal die aarde bly draai soos dit hoort?

Indien nie, hoe kan ék dit reg maak?

Was ek gister reg of verkeerd? Kon ek anders opgetree

het?

Sal ek vergewe word?

Word my oë swakker of verbeel ek my?

Gaan ek ook jig kry, of rumatiek

of my naam en van begin vergeet?

In die tuin sing die swartoogsysies ...

en skielik besef ek: kommer en knies

help net mooi niks nie.

En ek ruk my ou liggaam reg en loop die môreson in -

`n lied in my hart ...

 

Mary Oliver

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock

 

Somerdag

Wie het die wêreld gemaak?

Die sierlike swaan, die pronkende pou?

Wie het die sprinkaan gemaak?

Hierdie een wat uit die gras gespring het

en nou suiker uit my hand eet?

Hy met sy yslike, ronde oë ...

Nou lig hy sy fyn voorpootjies en vrywe sy gesig ...

Dan wip die vlerkies oop en hy swewe weg.

Eintlik weet ek nie wat `n gebed is nie.

Ek weet hoe om na dinge te kyk,

weet hoe om my in die gras neer te vly,

deur die veld te loop, rustig en geseënd,

want dis wat ek die hele dag gedoen het.

Wat anders moet ek doen?

Alles moet sterf – en veels te gou.

Sê my, wat wil jy doen

met jou enigste, wonderlike, kosbare lewe?

Mary Oliver (1935- )

”The Summer Day” from

The Truro Bear and Other Adventures: Poems and Essays

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock

 

21 Augustus 2011.

Here, hoe die dinge waarvoor ek vra,

deur U voorsien sal word, dit weet ek nie.

Maar dat U sál voorsien, dit glo ek,

want U het dit belowe

U het my geleer om te bid;

dan sal U mos sekerlik ook na my gebed luister?

Here, dit is nie die verdienstelikheid van my gebed

wat my oortuig dat U sal hoor en antwoord nie,

maar die sekerheid van u trou.

Amen

Martin Luther

 

14 Augustus 2011. Walter Brueggemann Afrikaanse verwerking: Marie de Kock

Laas nag het ek gedroom. . .

Laas nag het ek gedroom. . .

Dit was`n pragtige droom

van `n heilige stad, ongelooflik mooi, goed en regverdig.

Daar was `n tuin soos `n ware`n paradys, vol bome en

waterstrome.

Ek het van vrede gedroom, van wêreld-ontwapening,

van vergifnis,

die omhelsing van almal in nood,

`n tyd sónder die dood.

Laas nag het ek gedroom. . .

`n nare nagmerrie van onvergeefde sonde, `n

nagmerrie van landmyne en verminkte kinders,

van armes verstote in ellende,

van honger ontheemdes,

van onbetreurde dooies,

`n nagmerrie van woede, rusie, oorloë.

Toe ek wakkerskrik, was U nog God

wat waak oor dag en nag

in oneindigende barmhartigheid.

Ons kom na U

met ons mooiste drome

en ons ergste nagmerries.

Ons vra dat U helende genade ons grootste vrese sal

vernietig,

dat U goedertierenheidheid

ons nagmerries sal verdryf

en ons mooiste drome waar sal maak.

Dankie dat U weer nuutheid bring

oor alles wat oud en dood is in ons.

Wees met ons,

lei ons na U vrede en vertroosting.

Amen.

 

8 Mei 2011. Gebed van die Gebeente. DJ Opperman

Gebed om die Gebeente


Heer, waar U noordewind die droë dissel rol
en oor die skurwe brakland jaag van Afrika,
maar eindelik teen 'n doringdraad met pluksels wol
vaswaai terwyl die kraaie en die aasvoëls kla,
laat my ook ná die swerf oor vlaktes heen nou rus
en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte
om my krys: "Ek het hom as matroos hier aan die
kus . . .''
"Ek: as stoker op 'n trein . . ." "Ek: in vaal-geel ligte
van 'n steenkooldorp se kroeg nog nou die dag
gesien . . .''
Glo omgekoop! Of hy sou skielik blink gesteentes
smokkel . . . blink gesteentes! Selfs dan . . . Nee,
miskien
lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die
gebeente,
wys my, gee my die drag gebeente van my skoot
dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf
en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur
lood
onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf.
Snags het ek soms gelê en vrees daar sou iets
boos
oor hierdie kind nog kom, want in Middelburg se
kerk
staan duidelik in die doopregister sy geboorte
nie na die stand van sy gesternte aangemerk.
En, soos wanneer jy tussen vinger en die duim
die wit son rol en skitter in 'n diamant,
sou hy deur Vrystaat en Transvaal se leiblou ruim
uit spieëls ons stryd laat blits en straal van rant tot
rant.
Maar hy móés sterf: die Dood het self hom eers
gejag
deur kou riviere van die Kaap, dwarsoor Anysberg
tot in die buitekamer op 'n plaas, waar hy een nag
in koue sweet moes lê en aan borswater sterf . . .
toe 'n tweede jagter hom van tent na trein, van trein
na tent met doringdraad en bajonet bewaak
en met gemete sorg van arts en medisyne
vir 'n tweede dood, o Heer, stadig gesond kon
maak.
En ná die skynverhoor het hulle hom vertel . . .
voor Graaff-Reinet se sel. O Graaff-Reinet se sel!
Hy was gewone kryger, Heer, en geen rebel.
O Graaff-Reinet se sel . . . Eségiël! Eségiël!
Vergeef my die gelykenis, Heer: ek weet 'n hond
as hy versadig is, verag die been en murg
maar bêre dit agter 'n bossie in die grond
– behoedsaam, en snuffel met die tweede honger
terug:
Teen middernag het op bevel 'n vyf soldate
die kalkwit bondel beendre in die kalkwit doek
met grawe en lanterns in verskeie gate
onder die roosmaryn langs die rivier gaan soek
en herbegrawe . . . toe U die storm word, Heer; ek
weet
U en die vyand het dié nag in die vallei
deur geel geflikker in slagreëns mekaar gemeet
oor wie uiteindelik my kind se lyk sou kry.
Hy moes drie dode sterf, maar hy wat drie maal
sterf
die sterf nie meer; hy word nou elke dag gesien
as 'n matroos, of stoker op 'n steenkoolwerf
in myn of tronk, in sirkustent of 'n kantien –
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!
Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn . . .
Seën, Here, ál die bleek gebeente van die stryd –
ek ken as moeder ná 'n halwe eeu van pyn:
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai
– dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.
D.J. Opperman

 
Bladsy: 123456
 
 
Please Wait