Nagedagtes

Nagedagtes

Wynand Verjaar 24 Februarie 2010

Miswolk oor Tafelberg

 

Ná Hospitaaldraai kronkel die pad om Duiwelspiek en dan lê die stad met Tafelbaai-hawe vol in die gesig.   `n Miswolk van Seinheuwel af het oor Groenpunt gesak.   Die kinders merk dit eerste op  -  ek is ietwat in gedagte.

 

Hierdie verjaardag moet  ‘liggies’ wees  en liewer maar net doodstil kom en verbygaan.   Dit sal die eerste keer wees dat ek nie `n oproep van my ma sal kry nie en dié wete maak `n broosheid in my wakker.   Ek is seker as ek die dag goed in toom hou,  sal ek dit kan beheer;  daarom geen etes of afsprake met vriende nie.  

 

Frances het voorgestel dat ons iets in die Waterfront moet gaan eet en dit voel na die regte ding vir dié jaar.   Net ons drie.   Seker sushi by Willowby’s,  nadat ek hulle `n uur of wat in die winkels laat snuffel het;   meisies het mos altyd lanklaas iets nuuts aangetrek.   Ek is ingedagte,  want ek wonder waaroor ons gaan gesels.   Ek moet dit darem op `n manier probeer lekker en vrolik hou;  hulle dink reeds ek lewe soos `n kluisenaar.

 

Ons het later as wat beplan was,  uit Stellenbosch vertrek.   Boonop het Suzette James my vroeër die dag laat belowe dat ek eers by hulle in Higgovale sal aangaan om `n geskenkie te ontvang.   Net voor ek gery het toe ek sien dat ons vasdraai,  het ek haar gebel om te hoor of ek dit nie kon uitstel tot `n ander dag nie,  maar vir haar is ‘nee’ mos nie `n antwoord nie.

 

Frances en Marguerite praat oor die mooi huise in die woonbuurt.   Ek sien dat die miswolk nou oor Tafelberg gevorm het en met die opdraandes en die kort strate  voel dit of ons direk daarteen gaan vasry.

 

By Suzette-hulle se huis herken ek dadelik Braam en Hannie se rooi Polo.  Hulle kuier dikwels Woensdae hier om Suzette en Peter se heerlike kos,  lekker geselskap en wonderlike gasvryheid te geniet.   Eers met die klim van die trappies begin ek onraad vermoed.   `n Verjaardagliedjie kry noot,  daar is mense op die stoep,  baie mense,  en toe skielik sien ek die see van bekende gesigte:  feitlik die hele Kruiskerk-gemeente met breë glimlagte en ope arms verwelkom my.   Die spontane drukkies,  die klapsoene en die baie liefde oorweldig my.   Die verrassingsparty laat my voel asof ek in `n rolprent is en my bewussyn begin van rat verander.

 

Terwyl ek nog verdwaas deur die een persoon na die ander gelukgewens word,  raak ek van iets anders bewus:  fyn druppeltjies op my vel.   Dit reën nie,  dis mistigheid.   Ons is ín die miswolk wat stadig en saggies oor die berg rol....   Ek neem die pragtige,  rooi aktetas  -  wat `n fantastiese mooi geskenk!  -   uit die fyn doustuif.

 

Prof Kay doen `n tafelgebed en bedank die Here vir die heilige sameswering tussen my kinders en ons klein gemeente.   Die bruisende geselskap en die heerlike kos en wyn  word seëninge van Bo.

 

Op pad terug huis toe dwaal my gedagtes jare terug.

 

Die agtiende Maart 1984 is ek in Mosselbaai-Suid,  my eerste gemeente, bevestig.   Baie indrukke van daardie kort naweek het mettertyd vervaag,  maar een ding bly ingebrand in my geheue:  die diep, donker geluid van Mosselbaai se mishoring daardie nagte.   My bevestiging as predikant het plaasgevind,  terwyl `n lae misbank oor die dorp gehang het.   Eers later sou ek my eie simboliese betekenis daaraan gee.

 

Die Sondag vóór Lydenstyd het begin bekend raak as die Sondag van Verheerliking en tekste uit enige van die drie Evangelies wat daarvan vertel,  word gelees.   Twee weke gelede het ons uit die Lukas-weergawe gelees en gesels oor die sogenaamde ‘bergspits-ervarings’,  iets wat soos in `n wolk gevorm word;  `n skaars mistieke belewing van God se vermoedelike  nabyheid wat `n mens soms aanvoel,  `n soort bevestiging.

 

Dis hoe my verjaardag vir my was.   My eie ‘haggadah’, `n oorvertel van `n ander se verhaal in jou eie lewe.   Met die verrassing-verjaardagparty in die miswolk wat oor Tafelberg spoel,  het die Here my in Kruiskerk bevestig.

Dis nie meer `n aanstelling nie,  dis `n bevestiging van ons as lidmate in `n hegte verbintenis met mekaar in liefde,  deernis en respek as medereisigers

op pad na `n bestemming wat nie omskryf kan word nie.

 

Ek is diep en innig dankbaar teenoor elkeen wat vir my `n dag gegee het soos geen ander nie. 

 

Klara Majola 30 Maart 2010

KLARA MAJOLA

 

 

Gister het Wynand oor helde en anti-helde gepreek.  Skielik wou almal saam praat en het iets te     gehad oor geestelike-, oorlogs-, vrede- en kinderhelde.  Klara Majola het ter sprake gekom en van ons ouer lidmate  het sommer die gedig van Opperman begin voordra (al was dit net in die gedagte).

 

Wie was Klara Majola?  Het sy werklik bestaan?  Toevallig lees ek nou Dana Snyman se bundel kortverhale “Op die toneel”.  Daarin vertel hy van sy ontdekkings reis om uit te vind wie hierdie dogtertjie was en ek deel graag sy bevindings.

 

Naby Prince Alfred Hamlet is daar ‘n plaas met die naam “Die Eike”.  Op hierdie vrugteplaas het, in die winter van 1950, ‘n 8-jarige dogtertjie verkluim toe sy na haar blinde pa gaan soek het.  Sy,  haar ouers, 5 susters en ‘n broer was arbeiders op die plaas en hulle van was nie Majola nie, maar Jansen.  Klara se regte naam was ook nie Klara nie, maar Violet.  So vertel Klara se bejaarde ouer suster Nan aan Dana.  In die omgewing waar byname gedy was Klara se pa bekend as Majola.  Klara Majola was dus byname.  Makliker om te onthou omdat almal Afrikaans gepraat het.

 

Nan was 10 jaar oud toe die tragedie gebeur het.  Hulle pa het vantevore blind geword en

hy en sy gesin het nog aangebly op die plaas.  Hy het gehelp met los werkies en het graag hout gaan soek vir vuurmaak.  Hy het die plaas baie goed geken.  Die betrokke koue winters dag het hy weer gaan hout soek en lank weg gebly.  Klara het na hom gaan soek en hulle het mekaar mis geloop.  Haar pa het later tuis gekom.  Dit het begin reën en sneeu en dit het baie koud geword.

 

Die volgende môre het hulle haar naby ‘n spruit gekry.  Sy was reeds verkluim.

 

 Sy is in die kerkhof op die plaas begrawe.  Op die sementsteen staan: Klara Majola.  Gebore: 14.6.1942.  Gesterf: 26.7.1950

 

Klara Majola wou haar vader

toe die skemer sak, gaan haal

waar hy, die blinde, hout vergader;

maar Klara Majola het verdwaal.

 

Klein Klara Majola lê verkluim

in die Bokkeveld se bros kapok,

haar arms en bene bruin

en kromgetrek soos wingerdstok.

 

Klara Majola, die koue geweld

sif stadiger oor my uit die ruim

maar nooit sal ek in die Bokkeveld

so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.  D.J. Opperman

 

Onlangs lees ek van ‘n beeldhoudster wat graag ‘n beeld wil maak van Klara.  Dit moet dan op die plaas of naaste dorp ten toon gestel word.  Ek hoop die plan materialiseer.  Dit sal ‘n pragtige manier wees om die verhaal te onthou.

 

Hannie de Vries  

 

 
 
 
Please Wait