Prediker

Prediker

wynand nel.jpg

Wynand Nel

Ek is tans, in 'n oorgangsfase van hierdie jong en klein gemeente se bestaan, die "prediker" en "pastor".

Hoe ek hier beland het, is 'n ander storie.

Ek het my bediening as predikant begin in die gemeente van Mosselbaai-Suid in 1984. Dit was na twee jaar as diensplig kapelaan by die destydse Leerkollege op Voortrekkerhoogte na die voltooiing van my teologiese studies by Maties in 1981. Ek het my B.A. Admissie graad by die R.A.U. gedoen vanaf 1975 tot 1977. Tukkies was my voorland maar my jong filosofie dosent, Jan Kirsten, het my omgepraat om Stellenbosch toe te gaan sodat ek terselfdertyd met die Kweekskool studies, ook kon voortgaan met 'n Honneurs in Filosofie.

Dit was twee wonderlike jare om aan proff Willie Esterhuyse en Hennie Rossouw se voete te sit. Hulle gesag as mense van beskeie maar ondersoekende wysgere is iets wat my vandag nog beinvloed. Op die Kweekskool self het prof Willie Jonker se lesings 'n teologiese tradisie by my ingeplant wat ook in my denke vandag, steeds rigtinggewend is. Ongelukkig het ek nie as 'n student genoeg vrae in die klas gevra nie, ook nie genoeg gelees nie. Die studente lewe was vir my baie aanloklik en Stellenbosch 'n plek wat my bekoor het. Tussen studente was dit 'n ander saak. Om te stry, te bevraagteken en vir alternatiewe te soek, het seker maar in die jare deel van my wese geword. Ek dink ek het toe ook reeds begin voel dat ek ietwat van 'n "buitestaander" was, maar my geselskap het tog in die hoofstroom plaasgevind. Dis seker vandag nog 'n paradoks in my. Die van 'n buitestaander wat in gesprek met hoofstroom denke wil bly.

Ek is daarom ook van oortuiging dat Kruiskerk gemeente nie 'n eiland op sy eie kan wees nie maar met ander gemeentes en kerke in verhouding en gesprek moet bly. Wysheid en insig in God se verhouding met ons is iets wat te diep en breed en gehuld is, dat 'n mens of 'n gemeente kan dink dat jy dit sonder hulp of gesprek met ander, self sal ontdek. Ek dink wel dat elke mens en ook gemeentes, 'n stukkie waarheid kan beetkry, waaraan hy/sy kan kou en gestalte aan kan gee twv die groter gemeenskap.

Vroeg in 1990 is ek na Tamboerskloof gemeente beroep. Dit is aan die voet van Leeukop in die stadskom van Kaapstad gelee. Die gemeenskap is vandag nog baie kosmoplities en uiteenlopend. Ek het hier ervaar hoe verrykend diversiteit in 'n geloofsgemeenskap is. Gesinne, jongmense, bejaardes, enkellopendes, gaymense, studente en jongberoepslui was deurgangers in 'n gemeenskap wat hulle lewens op een of ander manier met mekaar gedeel het. Ek het egter ook agtergekom dat hierdie diversiteit iets is wat versigtig hanteer en geleef moes word.

Iets in ons menslike denke en gedragspatrone wil altyd "wen" of "domineer" en op 'n manier die laaste woord spreek oor wat reg en goed en aanneemlik moet wees. So was dit opvallend dat sommige lidmate welkom was om die musiekbediening te doen, te bak en te brou, basaars te reel en te beman/vrou. Wanneer dit egter kom by wie die lede van die kerkraad en bestuur kon wees, het sommige lidmate 'n ander kriterium gebruik.

Ek was baie gelukkig in Tamboerskloof, veral omdat die diversiteit van mense so aangrypend mooi is in 'n gemeente. Ek het egter die fout gemaak, soos meeste ander predikante, om met verloop van tyd die rol te vervul van 'n Hoof Uitvoerende Beampte. Alles het uiteindelik by my gedraai vir besluitneming, aanvoering en beplanning. Dis nie 'n verwyt nie, buiten 'n selfverwyt .

Met die voordeel van terugskouing, is ek vandag oortuig dat predikante meeste van hulle tyd met teologiese leeswerk moet deurbring sodat hulle eers na deeglike voorbereiding en besinning dit sal waag om iets oor God te praat met ander mense. Ons is te veel vasgevang in 'n "Jesus sindroom" waar predikante die wonderwerker probeer wees wat alles vir almal moet wees. Vir my lyk dit steeds asof predikante van Maandag tot Vrydag rondhardloop met 'n besige dagboek wat hulle op 'n manier goed laat voel, en dan uitgeput oor 'n naweek probeer om leeswerk en besinning in te pas vir Sondag se erediens. Ek veralgemeen dalk.

Ek het wel die oortuiging uit my eie ervaring, dat 'n predikant wat alleen 'n gemeente in sy volle omvang bedien, mettertyd moeg gaan word om met oorgawe te werk.

In in die laat 1990's het ek bekend geraak met die werke van 'n Amerikaanse Katolieke monnik en skrywer, Thomas Merton. Dit het my laat verlang na 'n ander pad en manier van doen. Die leser en student wat ek nie in my studentejare was nie, het in my navore gekom en ek het gewens dat ek die meeste van my werkstyd kon deurbring met leeswerk, meditasie, gebed en besinning. En ek bedoel dit nie in 'n vroom en oordrewe manier nie.

Die Buro van Voortgesette Teologiese Onderrig op Stellenbosch het 'n navorsingsgroep begin oor Liturgie en Erediens waarvan ek die sameroeper geword het. Ek het begin droom oor 'n Retrait sentrum vir predikante in die gereformeerde tradisie en uiteindelik op my eie die droom nagejaag. In 1999 het ek 'n lappie grond in die Jonkerhoekvallei buite Stellenbosch gekoop. Ek het beplan om die bestaande gastehuis in so 'n sentrum te omskep. Vanwee verskeie redes het dit nie tot wasdom gekom nie.

Ek het weer dorp toe getrek en 'n deeltydse pos by Stellenbosch se Moedergemeente gekry as pastor vir die senior lidmate in die gemeente. Ek is steeds hierby betrokke en ervaar dit vir een of ander onverklaarbare rede, baie vervullend.

My opvolger/vriend by Tamboerskloof en later eerste leraar van Kruiskerkgemeente, Terblanche Jordaan het verlede jaar besluit om 'n ander beroep te volg. Ek is deur hom en die bestuur genader om vanaf begin 2008 as predikant en pastor by Kruiskerk aan te sluit.

En hier is ek nou, dankbaar vir die geleentheid alhoewel met baie minder weet en sekerheid as voorheen in my bediening. Wel het ek 'n sterker behoefte as ooit om met mense te praat in 'n ander en nuwe idioom oor die Misterie van God se openbaring deur die Persoon van Jesus Christus.

 

 
 
 
Please Wait